Dit Breek My Hart!!! – EKSTEEN BLABBER

Dit Breek My Hart!!!

0 212

[English version coming soon, I hope…]

Oor die jare was daar verkeie kolomme in tydskrifte wat aan die eensames se behoeftes probeer voldoen het.

Onthou jy dalk Die Opsitkers? In die Landbouweekblad, as ek dit nie mis het nie. En vir al wat ek weet bestaan dit nog steeds. Hoekie vir Eensames? Was dit in die Huisgenoot? Ek is nou nie meer seker nie.

Deesdae moet daar egter vir die nuwe generasie voorsiening gemaak word en aanlyn advertensies is dus aan die orde van die dag. So val my oog dan ook daagliks op Kom ons Kliek terwyl ek Netwerk24 se artikels lees.

Oor die fotos wil ek nie kommentaar lewer nie. Jy kan nie help hoe jy geskape is nie en smaak verkil in elk geval – beauty is in the eye of the beholder. Jy kón darem bietjie moeite doen met jou kleredrag, haarstyl en algemene voorkoms, maar kom ons los dit ook maar daar.

Dis net ongelooflik hoe baie ‘n mens kan (of probeer) aflei uit die vier reëltjies wat onder jou naam en langs jou foto verskyn. Die idee is dat jy net genoeg moet sê om aandag te trek sodat ‘n moontlike belangstellende na jou profiel wil gaan kyk.

Laat my toe om so ‘n paar afleidings te maak.

Dis natuurlik belangrik dat jy die regte (by)naam vir jouself kies. Dit moet aandag trek, interessant wees, maar nie ander afskrik nie. Party mense, meestal ouens, gebruik sommer ‘n naam. Dit is dalk nie sy regte naam nie, maar klink vir my tog meer opreg as die uitgedinkte goed.

Naampies soos Duifie, Liefie, Skattie, Engeltjie, ensovoorts, gevolg deur een of ander ou nommertjie – byvoorbeeld 24, terwyl die fototjie duidelik wys jy is aan die verkeerde kant van 40 – val weer so reg in die kraal van die sogenaamde romantiese Afrikanertjies wat nie kan help om verkleinwoordjies vir elke dingetjie te gebruikies nie. (Wag eers, ek moet gou hardloop. Die natuur roep!)

My raad is dat jy maar baie versigtig moet wees vir die naam wat jy jouself toeken. Mense soos ek – een daar is baie van ons – besluit binne ‘n breuk van ‘n sekonde wat die naam vir ons beteken. As daar iets soos “hond” of “crazy” or “mal” in die naam is, laat dit my aan iemand dink wat jou gaan agterna jaag en dalk uiteindelik bykom – soos in byt, natuurlik!

Waag jy om ‘n dame te wees en “By” of “Bytjie” in jou naam te hê, moet jy verwag ek gaan dink aan heerlike soet heuning. O, en ek gaan dalk skrikkerig wees om jou vas te druk; netnou reageer jy ook soos ‘n by! Aan die ander kant,… aag nee, daar gaan ek al weer.

Oë regs na die +/- 25 woorde waarmee mense hulleself beskryf.

Jy moet verstaan, hierdie is gratis advertensies vir mense wat vriendskappe of maats soek. As ‘n ou dit dus baie duidelik stel dat hy daarna uitsien “om ‘n hegte vrienskap aan te koop”, begin ek wonder of hy nie by die verkeerde plek soek nie. Geld tel nie hier nie. En dan wil hy dit doen “voor enige gevorderde opsies”? Ek weet darem nie so lekker nie.

‘n Ander ou noem pertinent dat hy “hou van die lewe”. Ek sou dink meeste van ons is op daai blaadjie, ou bul. Soos ‘n bekende persoon (wie se naam ek nou vergeet het) eendag gesê het: “die lewe mag dalk moelik wees, tot jy aan die alternatief dink.”

Wat dink jy bedoel ‘n man as sy opening sin sê “ek het regtig baie om te gee”? As ek ‘n dame was hardloop ek ‘n myl (of ‘n kilometer of twee). Ek sal nooit seker wees of dit ‘n fisiese dreigement is nie; of wil hy my dalk net versmoor met liefde en aandag? Ek sal te bang wees om uit te vind. Dié man sal wel moontlik werk vir die dame wat blykbaar “stil en teruggetrokke dinge bekyk het, maar ek wil dit nou verander en myself blootstel”. A match made in heaven?

Hoe de hel ferwag jei om ‘n mysie (of man) te oortyg dat jy ernstig is is jy nie eers die heel bysieks van spel kan regkrei nie. Ek meen, as dit vir jou belangrik is dat die persoon “moed met ander kan komenkeer” en dat “omstandag heede” nie saak maak nie, dink ek jy sit klaar met ‘n moerse challenge nog voor jy hom/haar ontmoet (ontmoed?) het.

Wat van hierdie beskrywing van ‘n ideale pasmaat? “Iemand wat lus is om saam fiets te ry – langs my, agterop my fiets of selfs te help stoot”. Desperate mense, of is dit maar net ek?

En party ouens is net plein onseker wat vir hulle die belangrikste in hulle lewens is, al noem hulle ook een of twee keer wat (of wie) eerste kom. Maar wat vir ‘n waarskuwing is dit: “Jy moet nie bang wees vir bietjie konflik en Skrif studie nie”. Hoe nou? Beteken dit jy verwag ons gaan elke keer eers baklei oor wat ons gaan lees voor ons die studie doen? Ek voorspel dit gaan lank vat voordat ons ons geskilletjies opgelos gaan kry, want jy stel dit baie duidelik: “Aanhouer wen. Vind die res self uit.” Good luck, girl! Eerder jy as ek.

Mag ek tog nooit nodig hê om so ‘n advertense te plaas nie. Vat my na ‘n kroeg toe, gee vir my ‘n bierbril en ek behoort OK te wees.

 

As ek nie regkom nie, het ek mos ‘n ingeboude backup opsie – of dalk het ek geld om vir my ‘n “vrienskap aan te koop”. Solank ek net veilig is.